DHL Stormers losskakel Gary van Aswegen se nagmerrie met beserings is uiteindelik iets van die verlede en hy wil die volgende tree in sy loopbaan neem.
Dis lekker om jou weer op die veld te sien. Wat is tot dusver die hoogtepunt van jou seisoen?
“Die belangrikste ding is dat ek eenvoudig kon speel! Dit het goed met my gegaan in die Vodacombeker-reeks en ek het toe my kans in die Vodacom Superrugby-reeks aangegryp. Die beserings van die afgelope twee seisoene het my ‘n goeie perspektief op die lewe gegee en was op ‘n manier goed vir my in my ontwikkeling as ‘n mens.”
Het jy tydens jou rehabilitasie van die knie- en enkelbeserings in 2011 en 2012 ooit gevrees dat jou loopbaan verby kon wees?
“Ek het die dag ná die laaste besering vlugtig so gedink, maar nooit daarna nie. Ek het steeds gevoel ek kon die besering oorkom en dat ek baie het om te bied. Ek was bereid om te baklei tot dinge in my guns draai.”
Hoe voel jy oor die ondersteuning wat die WP Rugby unie jou in die moeilike tye gegee het?
“Dis ‘n groot seën, want dinge verander uiteraard wanneer jy beseer is. Jy verval effens in onguns. Ek moes verlede jaar ‘n groot besluit neem of ek hier gaan bly en of ek my loopbaan elders gaan voortsit. Die WP het vertroue in my gestel en dit motiveer my om vir hulle te wys dat ek hier is om groot dinge te doen.”
Was dit moeilik om uit die bloute weer Superrugby te moet speel toe Elton Jantjies beseer is?
“Glad nie. Ek het redelik gemaklik ingepas. Die kern van die senior span is vir ‘n rukkie al min of meer dieselfde en ek is al vir ‘n paar jaar in die sisteem. Ek kon voor dit moimentum in die Vodacombeker-reeks bou.”
Hoe ontwrigtend was al die beserings vir die span vanjaar?
“Dis natuurlik ‘n faktor, maar ons het nie veel tyd om daaraan te dink nie. Elke speler se fokus is net op wat hy moet doen om die span te laat wen.”
Het jy jou eerste toer saam met die Stormers in Australasië geniet?
“Dit was fenomenaal! Ek is albei vorige jare die week voor die toer beseer. Jy leer só baie van mekaar op ‘n toer.”
Met wie het jy ‘n kamer gedeel en wat was sy slegte gewoontes?
“Ek het met Louis Schreuder gedeel. Hy sing in die badkamer! Ons het baie pret op toer gehad en lekker saam gelag.”
Wat is jou persoonlike doelwitte vir vanjaar?
“Dis vir eers vir ons om die res van ons wedstryde te wen en dán ons Curriebeker-titel suksesvol te verdedig. Ek sien baie uit na die Absa Curriebeker-reeks. Dit gaan vir my ‘n geleentheid wees om ‘n tree vorentoe te gee in my loopbaan.”
Waar het jy grootgeword en hoe het jy in die WP beland?
“Ek het in Standerton in Mpumalanga groot geword en is ná die Cravenweek in 2008 ‘n junior kontrak by die WP se Rugbyinstituut aangebied. Dis ‘n fenomenale program en neem jou rugby na die volgende vlak toe.”
DHL Stormers Matchday Magazine